Na ‘n baie suksesvolle uitreiking einde 2024 van sy kortspeelplaat, Arende en Engele, skop Len Muller 2025 af met ‘n pragtige nuwe enkelsnit, Soos ‘n Engel. ‘n Kort uittreksel van díe snit is onlangs op TikTok gedeel en het binne 12 dae meer as 200 000 kyke gekry met videos wat wyd en suid gedeel word. Hierdie massiewe reaksie en sterk belangstelling, is ‘n duidelike aanduiding dat hierdie snit ‘n defnitiewe gunsteling is.
Die snit gaan oor bewondering, liefde, en hoe spesiaal iemand jou kan laat voel. Hierdie Afrikaanse pop liedjie het sterk dans- en feestelike elemente – ’n vars en prettige klank wat aansteeklik is!
‘Soos ’n Engel is ’n opwindende nuwe genre wat ek probeer het. Dit is ’n romantiese liedjie met ’n dansbare ritme wat ’n bietjie anders is as my gewone klank. Ek is baie trots op hierdie projek en kan nie wag dat mense dit hoor nie! Dit is een van my vrou se gunstelinge en sy vra nou al vier jaar dat ek dit moet opneem. Die titel is baie simbolies – dit verwys na die gevoel van bewondering. Dit is ’n metafoor vir die manier hoe die liefde iemand ophef en inspireer,’ vertel Muller.
Len het geskryf aan die lied oor ‘n tydperk van vier jaar en Juan Boucher het later ‘n gedeelte van die tweede vers geskryf. Die liedjie is vervaardig deur Gideon Botes wat ongelooflike werk gedoen het om die energie en emosie van die liedjie lewe te gee.
Die lied is geïnspireer deur daardie onvergeetlike gevoel wat jy kry wanneer jy verlief is of iemand bewonder. Len wou iets skep wat daardie gevoel vasvang en luisteraars herhinner aan hoe wonderlik die liefde is.
‘Dit is ’n positiewe liedjie wat ek hoop mense sal laat goed voel – die wêreld het meer van daardie energie nodig. Ek het dit gekies omdat ek glo dit spreek reguit tot mense se harte. Dit is ’n liedjie wat jy saam met vriende en familie kan geniet by enige geleentheid.,’ voeg Len by.
‘n Pragtige musiekvideo van die lied is ook pas vrygestel.
Kyk die video hier: https://youtu.be/IxeqI6ads9M
Die musiekvideo is geskiet op pragtige areas in Scarborough strand en in die Kalkbaai hawe, wat die natuurlike elemente en eenvoud van die tema weerspieël. Dit gee die video ’n tydlose, egte gevoel wat pas by die liedjie se emosionele kern.
‘Ek wou iets visueel skep wat kykers se verbeelding vang en hulle emosioneel raak. Die eenvoud en simboliek in die video laat die storie van die liedjie uitstaan. Ons het gekies om ’n visuele verhaal te vertel wat mense in ’n ander wêreld invoer – een wat die gevoel van die liedjie komplimenteer,’ vertel Len.
Len se vrou, Chanél Muller, het die regie behartig van die musiekvideo. Haar unieke perspektief het gehelp om die video besonders te maak. Die talentvolle Nico Welgemoed was agter die kamera en het ook die redigering behartig.
‘Om saam met my vrou aan hierdie projek te werk, was ’n baie spesiale ervaring. Dit is nie net ’n liedjie nie – dit is ’n kreatiewe viering van liefde, familie, en die vermoë van musiek om mense bymekaar te bring,’ sluit hy af.
Muller is tans besig om aan ’n nuwe album te werk wat later die jaar uitgereik sal word. Hy sien ook uit na meer optredes die jaar en is genooi om weer by INNIBOS fees in Nelspruit te gaan optree in Julie 2025.
Kry die lied hier: https://ditto.fm/soos-n-engel
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts
Twitter: @lenniemuller
Instagram: @lennie.muller
Webwerf: www.lenmuller.co.za
YouTube: www.youtube.com/lenniemuller
SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller