ROWAN ZERF VANG DIE VAKANSIEGEES VAS MET ’N VOETJEUKLEKKER EERSTE SOLO-ENKELSNIT

Dis vakansie en baie mense stroom na die strand om die laaste bietjie somerson te vang voordat die winter dit verjaag.

Met sy eerste solo-enkelsnit, waarmee hy na tien jaar uiteindelik sy terugkeer na die musiekbedryf maak, het die gewilde musikant Rowan Zerf dit reggekry om die perfekte treffer op te tower wat gaan koning kraai op elke kuier-speellys.

Volgens hom gaan die liedjie oor ’n meisie op die strand wat hom die koue skouer gee, omdat sy net daar is om in die son te lê en bak en daarom is die titel van die snit – heel gepas – NET HIER OM TE TAN.

Hierdie liedjie, wat hy saam met sy boetie Chad geskryf en saam met Robin Kielly vervaardig het, is sy poging om op ’n tong-in-die-kies-manier kommentaar te lewer oor mense se beheptheid met sosiale media.

Mense is deesdae so behep met hulself en hul beeld op sosiale media. Likes en volgelinge het die nuwe geldeenheid geword en hierdie snit is om mense te herinner om partykeer hulle fone neer te sit en te kyk waarop hul dalk in die regte lewe uitmis,” verduidelik hy. “Dis nie baie diep nie, dis net pret. Die musiek is lekker, die melodie sing maklik saam en die musiekvideo maak dit nog meer aanloklik.”

Die video speel af op ’n pragtige strand in die Kaap en is verfilm deur Quintessential Photo & Video Worx.

Net soos die liedjie, versinnebeeld dit ’n heerlike opgewekte kuieratmosfeer met mense wat saam met die sanger dans en sing op die strand, amper net soos ’n Suid-Afrikaanse weergawe van die Barbie-fliek.

Alhoewel hulle as gevolg van slegte weer net ’n paar ure gehad het om die opname te doen, is die eindproduk perfek en kry dit beslis reg om die kyker in te trek en te laat deel voel van die aksie.

Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=A8lQzOwkDDQ

Zerf wou ’n musikant wees vir solank as wat hy kan onthou en het reeds op 16 as klankingenieur op projekte gewerk by die Staatsteater in Pretoria.

Dié gesoute kitaarspeler en sanger het in 2011 sy amptelike buiging in die musiekbedryf gemaak as deel van die voormalige gewilde mansgroep NRG, maar het sowat tien jaar gelede sy musiekdroom vir die liefde verruil.

Vanaf Augustus 2023 is die 40-jarige Pretorianer egter weer voltyds terug in die bedryf en het op die dag van die Wêreldbeker-eindstryd ’n liedjie geskryf wat meer as ’n miljoen trefslae op TikTok gehad het.

Wanneer hy nie op die verhoog is nie, geniet hy die bosveld en beplan om binnekort die land plat te toer saam met sy orkes.

NET HIER OM TE TANis net die begin van ’n opwindende nuwe hoofstuk in hierdie veelsydige kunstenaar se loopbaan en ’n mens kan nie anders as om uit te sien na wat hy volgende gaan doen nie.

Die liedjie word versprei deur Platinum Music en is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms.

Laai dit hier af: https://li.sten.to/eb7g8l1l.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/rowanzerfofficial

Instagram: @rowanzerf

TikTok: @rowanzerf

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Arndt

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *