Dit is menslik om die dinge wat met jou gebeur te bevraagteken, en om sin te probeer maak van die lewe.
In haar debuut-enkelsnit, KAN JY MY SÊ, stel die talentvolle kunstenaar, Tracy Brainers, ondersoek in oor die hoekoms en waaroms van die lewe, en die emosies wat daarmee gepaard gaan.
Hierdie veelsydige vrou is beslis geen vreemdeling op die verhoog nie en het al saam met groot name soos Just Jinger, PJ Powers, Sipho Hotstix, en Kurt Darren opgetree, asook aan produksies deur David Bloch International, Tailormade Productions en die Barnyard Teater gewerk.
Toe sy KAN JY MY SÊ, wat deur Theunis Duvenage geskryf is, die eerste keer hoor, het sy egter geweet dít is die liedjie waarmee sy haar debuut as solokunstenaar wou maak.
Volgens Tracy bied die ballade iets nuut en vars: “Dit is ongelooflik mooi. Dit is emosioneel en weerloos maar tog sterk, met diep lirieke wat hart en siel raak. Hopelik stem luisteraars met my saam en hou hulle genoeg daarvan om hierdie opwindende reis saam met my aan te pak.”
Die musiekvideo gee jou ’n kykie agter die skerms na wat ’n dag in die lewe van Tracy as sangeres behels – van die skryf van ’n liedjie en die emosies wat gedurende dié proses opborrel, tot die uiteindelike, glansryke optrede van die finale produk.
Wicus Struwig van SSL Productions was verantwoordelik vir die idee en konsep en het ook die video vervaardig. Dit is by Thaba Eco Hotel in die Klipriviersberg Natuurreservaat in Johannesburg verfilm. “Die wonderlike omgewing was die perfekte agtergrond vir die liedjie. Ek hoop mense ervaar die emosie daarvan as hulle na die video kyk en na die woorde luister.”
Kyk die video hier: https://www.youtube.com/watch?v=Fuf3kDsbCjg
Met haar eerste enkelsnit agter die blad beoog die musikant om in die volgende paar maande heelwat nuwe musiek vry te stel, asook om volgende jaar regoor die land te toer om haar en haar musiek aan nuwe gehore bekend te stel. Sy sien ook uit na die geleentheid om saam met ander sangers te werk, met Early B boaan haar wenslys.
Buiten vir musiek is Tracy se gesin haar passie. Dié 36-jarige ma van drie meen haar kinders inspireer haar om te skryf en sy en haar man, Brady Fortuin, is reeds verskeie jare lank gelukkig getroud en was ook saam te sien in die gewilde Showmax-dokumentêre reeks, Sex in Afrikaans.
Die paartjie bedryf ook hulle eie Kaaps-Maleise koeksister- en koffie-besigheid, wat hulle tydens die grendeltyd begin het. Sy verwys grappenderwys daarna as hulle vierde kind.
Tracy is in Kaapstad gebore, maar het op die ouderdom van twaalf saam met haar gesin na Pretoria verhuis, waar sy vandag steeds bly. Haar musiekloopbaan het op skool reeds begin; sy het aan Pro Arte Alphen Park, waar sy in musiek gespesialiseer het, gematrikuleer. Sy het egter die bedryf eers amptelik in 2009 betree en was nog nie ’n dag spyt nie.
Met tallose optredes agter die rug, meen sy dat sy tot dusver geseënd was, en dat elke geleentheid wat sy gebied is, ’n hoogtepunt was. Sy sien egter uit na haar nuwe hoofstuk as solokunstenaar en die hoogtes wat sy met haar sangloopbaan gaan bereik.
“Die lewe maak vir my sin wanneer ek sing,” verduidelik sy. “Ek voel tuis op die verhoog. Musiek was bedoel vir my, en ek glo hierdie nuwe reis gaan vol nuwe hoogtepunte wees.”
Tracy put inspirasie uit die werk van sterre soos Lizzo, Beyoncè, en Taylor Swift, wat sy as interessant en verfrissend beskryf. Nes hulle, is sy oorspronklik en outentiek. Haar motto is dus geen verrassing nie: “Wees jouself. Almal anders is reeds geneem.”
Met haar energie, houding en onblusbare gees, gaan dié vurige vrou beslis die Afrikaanse musiekbedryf op horings neem.
KAN JY MY SÊ is beskikbaar op alle digitale platforms. Kry dit hier: https://orcd.co/tracybrainers
SOSIALEMEDIAKSKALES:
Facebook: @TracyBrainers
YouTube: Tracy Brainers
Instagram: @tracybrainers
Webwerf: www.tracybentertainment.co.za
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alani Coetsee
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za