Oktober is Wêreldgeestesgesondheidsmaand. Om bewusmaking hieroor te skep, spesifiek op Wêreldgeestesgesondheidsdag op 10 Oktober, wil topprestasie-afrigter, Cobus ‘Die Viking’ Visser, mense – en veral mans – aanmoedig om om te sien na hulle geestesgesondheid.
Dié bekende Suid-Afrikaanse skrywer, spreker, afrigter, fasiliteerder, lewensafrigter en vuurloop-instrukteur glo dat Wêreldgeestesgesondheidsmaand belangrik is vir verskeie redes, veral in ’n samelewing waar hierdie kwessie dikwels oorgesien of afgemaak word.
“Deur ’n hele maand aan geestesgesondheid toe te wy, help om bewusmaking te skep wat die stigma daar rondom verminder wat steeds in baie gemeenskappe bestaan. Verder is dit die ideale geleentheid om inligting hieroor te versprei, mense te help om hulle geestesgesondheid te verbeter en aan te moedig om oor hulle probleme te praat sodat hulle die nodige hulp en ondersteuning kan kry.”
Verder stel dit ook mense in staat om met nuwe oë na ander te kyk en dalk iemand raak te sien wat regtig ondersteuning nodig het.
Cobus, wat as kind met hemofilie gediagnoseer is, het self al ’n pad met angs en depressie gestap. Om met dié siekte te leef, beteken dat hy voortdurende pyn het en nie kan deelneem aan sport en ander aktiwiteite nie. Dit, saam met ander faktore soos om nie sy kinders gereeld te sien nie, het ’n enorme impak op sy geestesgesondheid. Dit word verder gekompliseer deur die nagevolge van verskeie breinoperasies.
“Ek sukkel al my hele lewe lank, op een of ander manier, met geestesgesondheidsprobleme. Soos baie ander mans, het ek dit in die verlede vir myself gehou omdat ek nie as ’n swakkeling wou voorkom en hê dat mense minder van my dink nie,” erken hy.
Die keerpunt het egter gekom toe hy, geweer in die hand, gesit het en oorweeg het of hy die sneller moet trek. Daardie oomblik was die katalisator wat sy lewe verander het en hom laat besluit het om doelgerig te leef, ongeag van wat gebeur.
Hoekom hy voel dis nodig om bewustheid oor geestesgesondheid onder mans te skep, is omdat hoewel depressie en selfmoord een van die grootste oorsake vir sterftes is onder mans, hulle steeds minder geneig is om hulp te soek as vroue.
“Mans ervaar die persoonlike en sosiale stigma wat daaraan gekoppel is om oor hulle gevoelens en geestesgesondheid te praat. Dit word dikwels veroorsaak deur die manier waarop hulle gekondisioneer is om oor manwees te dink. Ek wil hê dat mans wat met geestesgesondheid sukkel moet weet hulle is nie alleen of swak nie en dat daar hulp en ondersteuning beskikbaar is.”
Oor die jare het Cobus gewoontes en tegnieke aangeleer om hom te help om sy situasie te hanteer. Dit sluit in om na sy fisiese gesondheid om te sien deur te gaan stap of oefen, homself met goeie vriende te omring, komedies te kyk, te streef na persoonlike groei en ontwikkeling en om vir homself lang- en korttermyndoelwitte te stel. Sy raad vir ander is egter om vas te stel wat vir hulle werk en om ’n verbintenis te vorm met iets buite hulleself – of dit nou mense diere of die natuur is.
Hierdie man moes in sy leeftyd al talle groot uitdagings oorkom. In 2013 het hy homself in die hospitaal bevind en kon hy nie beweeg nie. In plaas daarvan om op te gee, het hy besluit dat sy liggaam nie langer sy tronk sou wees nie. Ten spyte van sy toestand het hy ongelooflike fisiese prestasies behaal, insluitend om in 2018 die Kilimandjaro met krukke aan te durf – iets wat hom amper sy lewe gekos het. Sedertdien het hy dit sy lewensdoel gemaak om ander te help om hulle topprestasie te bereik en oor die jare met honderde individue, besigheidsleiers en mense met gestremdhede gewerk.
Hy het ’n BBA-graad in bemarkingsbestuur van die IMM Graduate School en is in die proses om sy MBA in bemarking te voltooi aan die Universiteit van Edinburgh. Hy is ook ’n gesertifiseerde meester-vuurloop-instrukteur, ’n gesertifiseerde NLP-lewensafrigter en -afrigter, ’n uitvoerende besigheidsafrigter, en ’n ShadowMatch- en enneagram-fasiliteerder. Daarbenewens het hy onder andere kursusse in toegepaste sportsielkunde, Train the Trainer en geesteskrag voltooi.
Cobus is reeds twee keer met die Men of Valour-toekenning vereer en leef volgens twee beginsels – #watookalditvat en #leefsonderspyt. Dit is sy eie lewenservaring wat hom dryf om ander te motiveer en te inspireer, en hy hoop dat hierdie oproep tot aksie nie net positiewe verandering vir mense se geestesgesondheid sal bevorder nie, maar hulle ook sal aanmoedig om hulp te soek as hulle sukkel.
SOSIALEMEDIASKAKELS
Facebook: https://www.facebook.com/CobusVisserViking8
Instagram: https://instagram.com/cobusvisserviking
Webwerf: www.cobusvisser.com
PUBLISITEIT & BEMARKING
Starburst Promosies
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za