JANNIE DU TOIT SLUIT DIE JAAR AF MET ’N GESOGTE TOEKENNING EN ’N REEKS SPESIALE VERTONINGS

Die geliefde en bekroonde sanger en liedjieskrywer, Jannie du Toit, is vanjaar een van die eregaste by Pretoria FM se gesogte Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings wat op 19 September 2023 by die Choose Life Ouditorium in Pretoria plaasvind. Du Toit, wat sy eerste professionele verhoogoptrede in 1971 gehad het en in 1979 bekendheid verwerf het, word tydens hierdie glansgeleentheid vereer vir sy lewenslange bydrae tot die plaaslike musiekbedryf.

“Wat ’n eer en aanmoediging vir die pad vorentoe,” sê hy oor hierdie besonderse toekenning wat hom binnekort te beurt gaan val. Buiten vir die toekenningsgeleentheid, het die veelsydige kunstenaar nog ’n paar groot hoogtepunte op sy kalender vir die res van die jaar.Op 24 September doen hy ’n baie spesiale Erfenisdagkonsert, getiteld Die Musiek van Jannie en Christa, saam met die FAK Jeugsimfonieorkes by die Voortrekkermonument se Heldesaal.

Dié konsert, onder leiding van dirigent Jaco van Staden, begin om 16:00 en toegang beloop R200 per volwassene en R100 per kind.

Kaartjies kan hier bespreek word: https://vtmevents.plankton.mobi/Events/EventBooking/b4263f20-71f4-42cf-a28f-323965c55070.Op 4 en 5 Oktober 2023 sal Jannie te sien wees by Aardklop met sy splinternuwe produksie, Margaretastraat.

Tydens hierdie hoendervleismooi vertoning, laat herleef hy die legendariese liedjieaande van 1981/82 by sy huis in Margaretastraat 28 in Pretoria, onder begeleiding van sy gereelde pianis oor die afgelope tien jaar – die uiters begaafde Chanie Jonker. Nie net gesels hy oor daardie ikoniese tydperk vanaf die einde sewentigs se “Musiek en liriek” en daarna nie. Hy kleur ook die verhaal in met die musiek van die liedjie-aande: staatmakers Koos Doep, Lucas Maree, Coenie de Villiers, Anneli van Rooyen, Janita Claassen, Marietjie Stoop asook ’n paar minder bekende sangers en teksskrywers.

Kaartjies kos R160 per persoon (R140 vir pensioenarisse) en kan hier gekoop word: https://www.ticketpros.co.za/portal/web/index.php/parent_event/30fecd4c-051e-fa64-1734-647a07de390f.Tydens die Toyota US Woordfees, wat vanaf 7 tot 15 Oktober 2023 in Stellenbosch plaasvind, vier hy die werk van sy jarelange vriendin Marie Tredoux met die verhoogproduksie, Die maan deur ’n gaatjie in die nag. Met die hulp van Chanie Jonker (klavier en akkordeon) en Annelie du Plessis-Hoberg (fluit), stel Jannie (stem en kitaar) die gehoor bekend aan hierdie Jacobsbaaise legende wat in September vier-en-negentig word en steeds liedjies skryf wat die hart raak.

Sy is veral bekend vir die aangrypende Jacobsbaai se Aandlied wat in die nuwe FAK Sangbundel opgeneem is, Mis oor Jacobsbaai wat deur Laurika Rauch opgeneem is en ’n Regte Ou Kaapse Reën wat gewild is onder kore. Die aard van Marie se liedjies herinner aan ’n Paryse straatkafee of ’n nostalgiese Nederlandse seemanslied. Die bindingsteks vir die verhoogproduksie is geskryf deur haar vriend, Dana Snyman, vroeër ook ’n inwoner van Jacobsbaai.Kaartjies se pryse wissel en is beskikbaar by: https://woordfees.co.za/en/program/die-maan-deur-n-gaatjie-in-die-nag/.

Jannie du Toit trap al vir dekades lank diep spore in die plaaslike bedryf en is nog lank nie klaar om gehore te betower met sy unieke musiek en talent nie.

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/JannieduToitBlad

YouTube: https://www.youtube.com/channel/UCoMAu3dxQnKK-CYJhDR7iFg

Webwerf: www.janniedutoit.com

PUBLISITEIT & BEMARKING:

STARBURST PROMOSIES

Gizela Sharim Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela@starburstmusic.co.za

Webwerf: www.starburstmusic.co.za