NUWE LEN MULLER ENKELSNIT IS ’N LIEFDESBRIEF VIR DIE WESKUS

Die geliefde sanger en liedjieskrywer, Len Muller, is vandeesmaand weer op almal se lippe met die uitreiking van ’n besonderse nuwe enkelsnit, WESKUS WYN.

Hierdie pragstuk, wat hy langs die kampvuur op ’n strand in die Weskus geskryf het, gaan oor kosbare tye saam met geliefdes wat waardeer moet word en nooit as vanselfsprekend aanvaar moet word nie.

Tydens die opname van my vorige musiekvideo, het ons baie tyd in die Weskus spandeer en elke keer as ek daar kom voel dit soos ’n ander wêreld en asof tyd daar so ’n bietjie stilstaan,” vertel hy. “Ek het die liedjie langs die kampvuur op ’n strand geskryf en dink samesyn met vriende in hierdie pragtige omgewing het die titel geïnspireer.”

Vervaardiger Gideon Botes was aan die stuur van sake met hierdie projek en het die wonderlike gawe om ’n eenvoudige liedjie na iets te laat klink wat ’n mens oor en oor wil luister.

Volgens Len is die liedjie vrolik en opgewek en spog dit met ’n akoestiese folk-pop-aanslag. “Vir my gaan dit maar altyd oor hoe ek voel wanneer ek musiek luister. Hierdie snit laat my gelukkig voel en ek hoop dit het dieselfde uitwerking op die luisteraar.”

’n Besonderse musiekvideo van dié lied, wat Len beskryf as ’n kunswerk wat die mooi van die kus vasvang, is ook nou beskikbaar. Dit is met ’n iPhone verfilm deur Nico Scheepers, vervaardig deur Chanél Muller en binne slegs twee dae geredigeer deur Regardt Botha.

Geheime plekke langs die Kaapse Skiereiland is in die video te sien en die hoop is dat baie mense die Weskus sal gaan besoek nadat hulle dit gesien het. “Ons wou mooi oomblikke vasvang eerder as om ’n tradisionele video te doen om die musiek ’n platform te gee om op te leef. Die Weskus is so ’n magiese plek en soos wat ek hier tik gaan my hart uit na die mense van Muisbosskerm, ’n ikoniese buitelig-familierestaurant wat groot skade gely het as gevolg van ’n brand. Ek dra hierdie lied en video aan hulle op,” sê hy.

Kyk die video hier: https://youtu.be/FXKLZl-aWxQ

WESKUS WYN volg in die voetspore van talle groot radiotreffers, waaronder Vrede, wat gebruik is as die temalied vir die kykNET-sitkom, Mense Mense en vir ’n Huisgenoot Tempo-toekenning benoem is.

Sedert Len se solo-loopbaan ’n dekade gelede afgeskop het, is sy musiek al meer as 2 miljoen keer gestroom op Apple Music en deesdae het hy sowat 50 000 luisteraars wat maandeliks op Spotify na sy musiek luister.

Oor die jare was daar voorwaar baie hoogtepunte op sy pad, waarvan die grootste vir hom is dat hy sy passie en roeping kan uitleef en mense se harte kan raak. Verder het hy nie net die geleentheid gekry om saam met groot name in die musiekbedryf te werk nie, maar ook om op groot musiekverhoë op te tree en homself as liedjieskrywer te vestig.

Dié veelsydige Kapenaar is ’n baie betrokke pa en bestuur ook sy eie eksklusiewe agentskap (Tau Entertainment) wat besprekings vir kunstenaars soos Juan Boucher, Danie du Toit (Reënwolf) en Laudo Liebenberg hanteer.

Later vanjaar wil hy graag ’n kortspeelplaat opneem met sy weergawes van bekende Engelse musiek wat hy geniet om te sing en om soveel optredes as moontlik te doen.

WESKUS WYN, ’n treffende snit oor vriendskap, samesyn en kuiers op die strand, is nou beskikbaar op alle digitale stromingsplatforms. Kry dit hier: https://ditto.fm/weskuswyn

SOSIALEMEDIASKAKELS

Facebook: https://www.facebook.com/lenmuller1/?fref=ts

Twitter: @lenniemuller

Instagram: @lennie.muller

Webwerf: www.lenmuller.co.za

YouTube:www.youtube.com/lenniemuller

SoundCloud: www.soundcloud.com/lenmuller

PUBLISITEIT & BEMARKING

Starburst Promosies

Gizela Sharim

Sel: 083 399 6869

E-pos: gizela101@gmail.com

Webwerf: www.starburstmusic.co.za