Janco Dreyer se hele lewe draai om musiek en daar is niks wat dié 23-jarige sanger en liedjieskrywer van Bloemfontein eerder sou wou doen nie.
Hierdie passie kan duidelik gehoor word in sy nuutste enkelsnit, BOSOPSKOP, uit die pen van Hugo Ludik en Nick Jordaan.
“Dit gaan oor ’n klomp jongmense wat tent opslaan en bosopskop hou,” verduidelik hy. “Een van die jongmanne raak verlief op sy droommeisie, en alhoewel sy vriende hom teen haar waarsku, voel hy dat sy die hartbreek werd is.”
Brendan Campbell en Hugo Ludik het dié opgewekte snit, wat jou uitnooi om saam te sing, vervaardig en die musikant glo dat dit ’n treffer gaan wees by elke kuier, omdat oud en jonk dit sal geniet om daarna te luister.
Janco sing al vandat hy elf is. Nadat hy rugby vir musiek verruil het, het die gogga hom behoorlik gebyt en was dit regdeur sy skoolloopbaan sy hooffokus.
Sedertdien was hy betrokke by verskeie inisiatiewe, waaronder Jacobus Silwer se All the way from Bloem-liedjieskryfprojek, het hy al by groot feeste opgetree, aan verskeie talentkompetisies deelgeneem en selfs die geleentheid gehad om die land in die VSA te verteenwoordig.
Sy eerste enkelsnit, Ek Sal Dit Onthou, is in Maart 2022 uitgereik en al verskil dit hemelsbreed van die vrolike aard van sy nuutste vrystelling, beskou hy dit as een van die groot hoogtepunte van sy loopbaan sover.
“Ek het verlede jaar my eerste enkelsnit vrygestel. Dit was ’n ballade wat uit my hart uit gekom het en dit was ’n groot voorreg om dit met luisteraars te kon deel. Maar ek dink die publiek hou meer van iets ‘vinniger’ soos BOSOPSKOP wat lekker klink en waarop hulle kan dans.”
Tans studeer hy musiektegnologie by COPA en werk hy hard daaraan om sy arsenaal van oorspronklike musiek uit te brei.
Wanneer hy nie op die verhoog is nie, is hy ’n introvert wat diep dink oor die lewe en inspirasie put uit die gebeure en mense rondom hom wanneer hy liedjies skryf.
“Gewoonlik is ek maar ’n stil outjie van die Vrystaat, maar op die verhoog verander ek in ’n performer,” deel hy.
Omdat hy hou van die pop-rock-gevoel van Nicholis Louw se musiek, sonder hy hom uit as sy grootste plaaslike rolmodel, terwyl internasionale sterre soos Queen, Elvis Presley en Ed Sheeran almal ’n beduidende invloed gehad het op sy persoonlike musiekstyl.
Alhoewel hy steeds sukkel om sy pa se dood te verwerk, bly hy positief en dankbaar vir elke geleentheid wat oor sy pad kom en is hy vasbeslote om ’n blywende impak te maak met sy musiek… hy beskou immers nie verniet 2023 as die jaar waarin hy die musiekbedryf gaan verower nie!
BOSOPSKOP se aansteeklike wysie sal enigiemand wat daarna luister se dag opkikker en is die perfekte wapen vir dié talentvolle sanger om die harte van musiekliefhebbers mee te oorrompel.
“Musiek is my hele lewe en dit is my grootste droom om te sing en op die verhoog te wees wie ek regtig is,” sluit hy af.
Die liedjie is nou beskikbaar op alle stromingsplatforms. Kry dit hier:
Spotify: https://open.spotify.com/track/7znVqj2Hiti3jCF2K0Cd6r?si=4SXY8StkQV2URcqk_EneMg&dd=1
Apple Music: https://music.apple.com/us/album/bosopskop/1678491858?i=1678491859
Youtube: https://music.youtube.com/watch?v=9xpbrMZdrDc&feature=share
SOSIALEMEDIASKAKELS:
Facebook: https://www.facebook.com/jancodreyermusiek
Instagram: janco_dreyer
YouTube: https://youtube.com/@jancodreyer890
PUBLISITEIT & BEMARKING:
STARBURST PROMOSIES
Alani Coetsee
Sel: 072 442 6918
E-pos: alani@starburstmusic.co.za
Webwerf: www.starburstmusic.co.za